1 Kor 13: 13..... maar die grootste hiervan is die liefde.

Ek wil dit nie my tema of my visie noem nie. Ek glo hierdie is die Tema van God se Koninkryk en behoort die tema van die Liggaam van Christus te wees; nie net vir 2011 nie, maar vir ons hele lewe.

God se ryk is 'n Koninkryk van Liefde "want God is liefde". 1 Joh 4:8.

"Ons het Hom lief omdat Hy ons eerste liefgehad het." 1 Joh 4:19.
Jesus gee ons die nuwe gebod dat ons mekaar moet liefhê. Joh 13:34.
En...... hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het. Joh 13:35.
"En die grootste hiervan is die liefde". Paulus sê hierdie teen die agtergrond van

1 Kor 12:31; en ek wys julle 'n nog uitnemender weg. (Die liefde).
Die liefde is noodsaaklik want dit lê hoop op God se agenda.
God die Vader het ons eerste liefgehad. 1 Joh 4:19.
God die Seun gee ons 'n nuwe gebod. Joh 13:34.
God die Heilige Gees stort God se liefde in ons harte uit. Rom 5:5
Hoekom word daar soveel prominensie verleen aan die liefde?

Drie redes:
• Die liefde is Onvervangbaar. 1 Kor 13:1 – 3.
1. Godsdienstige welsprekendheid (tale van mense en engele) kan liefde nie vervang nie.
2. Godsdienstige voortreflikheid kan liefde nie vervang nie (die gawe van profesie)
3. Godsdienstige alwetendheid kan liefde nie vervang nie (al die geheimenis en al die kennis)
4. Godsdienstige kragdadigheid kan liefde nie vervang nie (al die geloof om berge te versit)
5. Godsdienstige offervaardigheid kan liefde nie vervang nie (alles uitdeel en liggaam oorgee om verbrand te word)
Al bogenoemde sonder liefde maak my 'n irritasie; (klinkende metaal en luidende simbaal)

• Die liefde is Onbeinvloedbaar. 1 Kor 13:4 – 7.
1. Die liefde bly lankmoedig en vriendelik te midde van moeilike omstandighede.
2. Die liefde is nie jaloers op ander en praat nie groot oor die prestasie nie. Is nie trots nie.
3. Die liefde neem andere in ag; handel nie onwelvoeglik nie en soek nie sy eie belang nie.
4. Die liefde laat nie toe dat verbittering in die lewe wortel skiet nie.
5. Vergewe maklik en hou nie boek van die kwaad nie.

• Die liefde is Onvernietigbaar. 1 Kor 13:8 – 13.
1. Die liefde vergaan nooit, sal nie tot niet gaan nie en sal nooit ophou nie.
2. Anders as profesie, tale en kennis. Dit alles is verganklik en onvolmaak. Nou is ons kennis ten dele; ons lewe 'n raaisel en ons jeug snel ten einde.
3. Selfs geloof gaan oor in aanskoue.
4. Hoop word 'n werklikheid.
5. Liefde bly !!
Want eendag sal ons LIEFDE in sy volledigste sien. In God. Want God is liefde.

NEEM IN AG!!
1. Dat alles by julle in liefde geskied; 1 Kor 16:14
2. Dat ons aan mekaar liefde verskuldig is; Rom 13:8
3. Dat die liefde ongeveins moet wees; Rom 12:9
4. Dat ons hartlik teenoor mekaar moet wees met broederlike liefde; Rom 12:10
Want............... die grootste hiervan is die liefde.

Ds Kallie Fourie
President